7 TEGNIEKE WAT JONG KINDERS SAL HELP OM STRES TE HANTEER

Maandag, 19 Februarie 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Stres van skoolwerk en eksterne faktore het vele negatiewe uitwerkings op die ontwikkeling van kinders.

blogImage

Soms kan die jong lewe van ’n besige skoolkind oorweldigend wees – skoolwerk, sport, kultuur, ander buitemuurse aktiwiteite, familie, vriende en alles tussenin… Ons voel gestres en ons wil net hê dat die lewe ons ’n kans moet gee om asem te skep. Tog stop die lewe vir niemand nie! Dit is ons verantwoordelik om maniere te vind hoe ons stres kan hanteer en steeds ons gelukkige en unieke self kan wees.

William James het gesê: “Die kragtigste wapen teen stres is ons vermoë om een gedagte bo ’n ander te kies.” Ons is in beheer van ons gedagtes en ons kan beslis ons stresvlakke beheer wanneer dit hand uitruk.


7 Tegnieke vir skoolkinders om stres te hanteer:
1. Bestuur jou tyd.
2. Sien om na jou liggaam.
3. Leer om asem te haal.
4. Praat daaroor.
5. Kyk op na die son.
6. Ruik die rose.
7. Neem ’n ruskans om iets lekker te doen.


1. Bestuur jou tyd.

Die meeste mense sê aan kinders en tieners om hul tyd goed te bestuur, maar niemand wys hulle regtig hoe nie. Ons blog - ‘Vier wenke wat jou sal help om ’n skedule vir ’n suksesvolle skooljaar op te stel’ verduidelik vir jou alles wat jy moet weet rondom die opstel van ’n skedule. Behalwe om ’n skedule op te stel rondom jou skoolwerk, studietyd en buitemuurse-aktiwiteite, moet jy ook rustyd skeduleer. Dit kan enigiets wees vanaf ’n 15 minute ruskans tot ’n volle dag afvat oor die naweek om niks anders te doen as om te herlaai nie.

Bestuur jou tyd goed deur goed georganiseerd te wees. Hou ’n dagboek waarin jy jou aktiwiteite (en die vereiste tyd) neergeskryf. As jy besef dat jy gedurende die week te veel aktiwiteite het, kan dit ’n goeie besluit wees om met een of twee aktiwiteite af te skaal. Dit is nie die moeite werd om jouself siek te maak a.g.v. stres omdat jy nie alles kan doen nie, want jy sal later eindig om niks te doen nie!

Wanneer jy jou tyd bestuur, onthou om net te fokus op die dinge wat jy regtig kan beheer. Soms kan ons baie stres oor die onsekerhede en dan stresvolle gebeurtenisse in ons gedagtes uitbeeld oor alles wat moontlik verkeerd kan gaan en dan vergeet ons waarom ons dit in die eerste plek wil en moet doen. Kies om daardie gedagtes vry te laat en fokus slegs op dit waaroor jy die mag het. Jy het die mag oor baie dinge – soos jou produktiwiteit en dit waarop jy tyd mors.


2. Sien om na jou liggaam.

Fisiese oefening is een van die grootste stresverligters in die wêreld. Dit is omdat die hormoon endorfien geproduseer word wanneer jy oefen. Endorfien is ’n goed-voel hormoon wat jou gelukkig maak. As jy gelukkig is, voel jy outomaties minder gestres en sal jy beter presteer, ongeag die stawwe werklading. Strek of Joga is ook wonderlik vir spanningverligting omdat jy die spanning in stywe spiere verlig. Probeer hierdie eenvoudige stresverligtingtende strek-oefening: Lê plat op jou rug en lig jou bene op om teen die muur te rus sodat jy ’n ‘L’ vorm met die muur en vloer. Dit help met die verligting van spanning in jou dyspiere en lae rug (waar jy baie stres stoor gedurende die dag wanneer jy by jou lessenaar sit).

Massering help om ontslae te raak van vasgekeerde stres en ander gifstowwe in jou liggaam. Jy kan ook vir ’n massering gaan by ’n opgeleide masseerterapeut of selfs jou eie hande, nek of voete masseer. Jou voete stoor baie stres aangesien dit drukpunte het waar die senuwees verbind word. Neem ’n gholfbal of enige ander klein bal en plaas dit onder jou voet en druk liggies daarop. Rol jou voet oor die bal in sirkels om die druk te verlig.

Dit is nie net belangrik om uiterlik na jou liggaam om te sien nie, maar ook te kyk na dit wat jy binne jou liggaam sit. Daar is baie kosse en drink-goed wat stress verlig. Ons het ’n paar hieronder gelys, maar dit is beslis nie beperk tot slegs hierdie nie:

Aspersies, Avokado, Bloubessies, Amandel- en Kasjoeneute, Lemoene, Salm, Spinasie, Knoffel, Hawermout, Kamille Tee, Donker-sjokolade (dit reguleer vlakke van die streshormoon kortisol en stabiliseer jou metabolisme), asook ander kosse ryk aan Magnesium en Omega 3 Olies.

Kry genoeg slaap. Groeiende kinders benodig ten minste 8 ure goeie slaap om te herstel na ’n besige dag, om te groei en vir hul brein om te funksioneer. Kyk na jou slaappatrone. Gaan slaap en word wakker elke dag op dieselfde tyd.


3. Leer om asem te haal.

As jy die tyd neem om diep asem te haal wanneer jy in stresvolle situasies is, kan jy jou stresvlakke verlaag. Wanneer jy diep inasem gaan meer suurstof na jou brein. Dit help jou brein om helder en beter gedagtes te dink. Dit kalmeer ook jou respirasie en verlaag jou hartklop. Volgende keer as jy gestres voel, probeer hierdie asemhalingstegniek:

Sit stil op die vloer of jou bed met jou bene gekruis. Begin diep inasem – moenie jou skouers lig nie, hou jou bolyf en bors stil. Fokus slegs op jou asemhaling. Laat jou maag gevul word met lug en druk jou diafragma af. Die inaseming moet net jou maag uitstoot. Terwyl jy inasem tel stadig van 1 tot 4 en hou dan jou asem vir 3 tellings. Asem uit. Blaas stadig al die lug uit jou liggaam met ’n eweredige uitaseming. Onthou om jou bolyf stil te hou. Terwyl jy uitasem, tel stadig vanaf 1 tot 5. Herhaal hierdie oefening vir ’n minuut en jy sal begin om ontspanne te voel.


4. Praat daaroor.

Soms wanneer ons gestres voel, is ons geneig om van ons geliefdes af te sluit. Dit is baie belangrik om te kan praat oor die spanning wat jy ervaar met iemand wat jy liefhet en respekteer. Vertel aan hulle wat jou gestres laat voel. Vra vir ’n drukkie en vir hulp as jul verhouding dit toelaat. Jy kan ook begin om in ’n dagboek oor jou ervarings te skryf. Dit help jou om enige onderdrukte gevoelens vry te laat. Om dit eenvoudig neer te skryf of om daaroor te praat in ’n veilige omgewing help om jou stresvlakke te verlaag.


5. Kyk op na die son.

Wanneer jy tyd in die natuur spandeer sal gevoelens van vrees, woede en angs verminder. Wanneer jy elke dag ’n paar minute in die natuur sit, of selfs kaalvoet op die gras loop, word jou fisiese welsyn dramaties verhoog. Dit verlaag bloeddruk, kalmeer jou hartklop en verlig spanning in jou spiere en verminder streshormone.

Wanneer jy met direkte sonlig in aanraking kom produseer jou liggaam serotonien. Serotonien help om jou buie, eetlus en vertering, slaappatrone en geheue te reguleer en te balanseer. Sonlig gee ook jou liggaam ’n vitamien-D hupstoot wat help om sterk bene op te bou. Wees egter versigtig vir die son - 15 tot 30 minute van sonlig sal ’n goeie uitwerking op jou stresvlakke hê, maar onthou altyd jou sonblok!


6. Ruik die rose.

Aromaterapie het bewys dat sekere reuke ’n kalmerende effek op mense onder spanning het, byvoorbeeld:

  • Laventel het kalmerende eienskappe en help om stres te beheer; dit verlig spanning, hoofpyn en depressie.
  • Bloekom help teen geestelike moegheid en verhoog energie.
  • Kruisement verlig pyn, verhoog energie en ontspan die senuwees.
  • Jasmyn tree op as ’n anti-depressant, aangesien dit gevoelens van selfvertroue en nuwe energie skep.
  • Kaneel stimuleer konsentrasie en fokus en veg teen geestelike moegheid.
  • Sitrus vernuwe, stel gerus en kalmeer die senuwees.

As jy van enige van hierdie reuke hou, kry ’n vloeibare borrelbadseep wat lekker ruik of ’n geurige kers wat jou kan help met die verligting van stres.


7. Neem ’n ruskans om iets lekker te doen.

Om iets te doen wat pret is, kan baie dinge behels! Jy hoef nie altyd omring te word deur vriende by ’n partytjie nie. Jy hoef ook nie baie geld te spandeer op speletjies of ver weg te gaan om pret te hê nie! Om iets te doen wat lekker is, kan dalk beteken om iets te doen wat jy nog nie voorheen gedoen het nie. Dit kan beteken dat jy versteekte talente ontdek of iets doen wat jy nog altyd wou probeer. Miskien kan dit pret wees om by ’n hondeskuiling uit te help of om familielid te besoek wie jy lanklaas gesien het. Luister na jou hart en doen wat die beste is vir jou.


Hierdie 7 tegnieke sal help om jou stres geweldig te verminder. Stres is nie gesond vir jou nie en kan later baie negatiewe effekte hê as dit onbehandeld gelaat word. Onthou altyd om professionele hulp te kry as jy dit nodig het! Deel met ons hoe jy stres hanteer. Steek jy ’n kers aan wat lekker ruik wat jou kalmeer? Geniet jy dit om te stap in die natuur om jou stres te verlig? As jy ’n vriend of iemand naby jou het wat met stres sukkel, deel hierdie artikel met hulle – jy kan dalk dit verhoed dat hul uitbrand!

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, die verhoudings wat jy het en uiteindelik die pers...

Lees

5 WENKE OM JOU SELFVERTROUE BINNE EN BUITE DIE KLASKAMER OP TE BOU

Het jy geweet daar is kragtige wetenskaplike maniere waarop jy dadelik meer selfvertroue kan verkry?...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.