VOORSTELLE HOE OM VERTROUE, RESPEK EN ’N GOEIE VERHOUDING MET JOU KIND TE BOU

Maandag, 02 Julie 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Gedurende die skoolvakansie is alles gewoonlik rustiger. Dit is nou ’n goeie geleentheid om kwaliteit-tyd saam met jou kinders te spandeer.

blogImage

Al het jy die mense naaste aan jou lief met jou hele hart, kan verhoudings met hulle harde werk wees. Soms spandeer mens nie genoeg tyd saam met mekaar nie, want daar is eenvoudig nie ’n sekonde vry nie. Aan die ander kant kan jy ’n hele dag in iemand se teenwoordigheid deurbring en so besig wees met alles anders dat teen die einde van die dag het julle nie ’n enkele konstruktiewe gesprek met mekaar gehad het nie. Jy werk, jy moet vergaderings bywoon, jy moet jou kinders betyds by die skool aflaai, want hulle skryf eksamens... Jy moet ook op daardie loopband kom - iets wat jy vir te lankal uitstel. Jy moet kruideniersware gedurende die dag gaan koop en besluit wat om vir aandete te maak...

Klink dit bekend? Natuurlik!

Om eerlik te wees, dit is die norm in elke moderne huishouding. Daar is niks verkeerd om besig te wees nie. Ongelukkig is dit ongesond wanneer hierdie dade belangriker word as die mense. Wanneer familieverhoudings afgeskeep word is dit gewoonlik die kinders wat die meeste uitgesluit voel. Jy mag dalk nie dadelik besef hoe dit hul raak nie, aangesien hulle vriende het en aan buitemuurse aktiwiteite deelneem, maar die krake sal uiteindelik vertoon. Ongelukkig kan dit ook hul skoolprestasie beïnvloed.

Kinders soek jou aandag, liefde en respek. Daarom is dit belangrik om met hulle te praat en hulle in te lig dat jy in hierdie tye omgee vir hulle. Gelukkig het die lewe sy siklusse en dinge sal nie elke dag so dol wees nie. Daar is geen beter tyd as om gedurende die skoolvakansie ’n bietjie kwaliteit tyd saam met jou kinders te spandeer nie. Hulle sal minder gestres en meer geneig wees om openlik met jou te praat.


10 Maniere hoe jy met jou kinders kan inskakel:
1. Sê vir hulle hoe lief jy hulle het.
2. Verstaan waar jy in jou verhouding met hulle is.
3. Luister aandagtig en praat slegs wanneer daar met jou gepraat word.
4. Verstaan waarvan jou kinders hou.
5. Maak hul drome jou eie.
6. Beplan ’n spesiale dag vir jou kinders.
7. Niks bring mense saam soos goeie kos nie.
8. Hou ’n speletjie dag/nag met jou gesin.
9. Ontmoet hul vriende.
10. Vind jou innerlike kind.


1. Sê vir hulle hoe lief jy hulle het.

‘Ek is lief vir jou.’ Hierdie 5 eenvoudige woorde is voor die hand liggend, maar waarskynlik die belangrikste woorde wat enige ouer vir hul kind kan sê. Om jou kinders te vertel in woorde dat jy lief is vir hulle, is ’n mondelinge bevestiging dat jy omgee. Kinders wat geliefd voel deur hul ouers sal ’n sterk en blywende verhouding met hulle hê, omdat hul veilig voel in hul teenwoordigheid. Dit is baie belangrik aangesien hul toeganklik en tegemoetkomend sal wees oor die dinge wat goed of nie so goed in hul lewens is nie. Kinders wat ’n hegte band met hul ouers het sal vir hul vertel wanneer hul geboelie word of in gevaar is. Dit is noodsaaklik om jou kinders se vertroue te wen en hulle te laat weet dat jy daar is vir hulle. Onvoorwaardelike liefde vanaf ’n ouer beïnvloed ook kinders se vertroue, selfbeeld, gesondheid en algehele gelukkigheid. ’n Studie wat uitgevoer is deur die Duke Universiteit Mediese Skool op 500 mense oor ’n tydperk van 30+ jaar, het bevind dat wanneer ma’s liefkosing aan hul kinders bewys het tydens kindsheid, het hulle volwassenes geword wat gelukkiger, minder angstig en minder geneig was om psigosomatiese simptome te vertoon. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat oksitosien, ’n chemiese stof wat deur die brein afgeskei word gedurende oomblikke van nabyheid tussen ouer en kind, verantwoordelik is vir die positiewe effekte. As gevolg hiervan word dit nie net aangeraai om jou kinders te vertel dat jy hulle liefhet nie, maar om dit regtig te wys.



2. Verstaan waar jy in jou verhouding met hulle is.

Om ’n goeie verhouding met jou kinders te hê, moet jy ’n tree terugstaan en analiseer waar jul huidiglik is. Geniet julle dit om gereeld kwaliteit tyd saam te spandeer? Neem jul deel aan prettige aktiwiteite en het jy sinvolle gesprekke? Sien jul skaars mekaar en praat slegs af en toe? Verander hulle gedrag as hulle rondom jou is? Daar is baie bepalende faktore (soos hul ouderdom, huishoudelike reëling, jou werkskedule, persoonlikhede, gemeenskaplike belange ens.) wat die tipe verhouding en die band wat jy en jou kinders het beïnvloed. Dit hang ook van kind tot kind af. Soms kan kinders en tieners moeilik wees om te verstaan. Sommige mag afsydig wees ongeag wat jy doen. Moenie hul te hard druk wanneer hulle nie dadelik oopmaak teenoor jou nie. Jy moet nooit opgee op hulle nie. Lig hulle in dat jy daar is en lief is vir hulle. Hulle sal vir jou raad vra as hulle dit nodig het. As hulle nie goeie gedrag toon nie, moet jy hulle gerus stel dat jy hulle dissiplineer omdat jy hulle liefhet. Julle sal albei deurkom. Wees deursigtig oor jou optrede en maak jou hart oop teenoor hulle. Vra hulle wat jy reg doen en wat jy verkeerd doen. Maak die doelstelling om ’n paar veranderinge aan te bring indien dit nodig is. Hulle sal uiteindelik net so teenoor jou optree.


3. Luister aandagtig en praat slegs wanneer daar met jou gepraat word.

Vir sommige kinders is dit moontlik ’n groot tree om te neem om te vertel hoe hulle werklik voel. Dit is nie omdat hulle jou nie vertrou nie. Dit kan eenvoudig wees omdat hulle nog onseker is oor hul eie gedagtes en gevoelens. Elke persoon is uniek en daarom is elke verhouding uniek. Sodra jy dink jy verstaan iemand, verstaan jy niks van hulle af nie. Die rede hiervoor is omdat almal verander. Jy behoort te weet. Jy is nie dieselfde persoon nou as wanneer jy hul ouderdom was nie. Dieselfde geld as toe jy universiteit toe gegaan het; getrou het of tydens hul geboorte. Jy groei as ’n persoon met die verloop van tyd. Kinders verander veral. Hulle transformer letterlik reg voor jou oë. Hulle verander nie net fisies nie, maar ook verstandelik. Soms kan hierdie ervaringe ongemaklik wees. Nietemin. Hulle leer elke dag nuwe dinge en ervaar baie emosies soos hul deur die lewe gaan. Jy het alreeds deur baie groei prosesse gegaan en geleer hoe om die lewe te hanteer, maar onthou dat alles vir hulle nuut is.

Moedig hulle aan om jou te vertel van wat hulle in die klas geleer het. Jy kan selfs iets nuuts leer. Moedig hulle aan om grappe te vertel of hardop te sing. Vra vir hulle vrae. Wanneer hulle regtig met iemand oor hul gevoelens wil praat, herken hulle jou en hul huis as ’n veilige omgewing. Laat hulle toe om self te praat en te dink. Dikwels weet hulle reeds wat die volgende stappe is om ’n probleem op te los. Hulle moet net hul plan van aksie oorvertel. Hulle wil ook bevestiging hê dat jy agter hulle staan en hulle sal vang wanneer hulle val. Gebruik jou diskresie as ouer wanneer om in te gryp en wanneer om terug te staan. Foute kan ook goed wees, want hulle leer daaruit.

As jy sien dat hulle met jou wil praat, maak ’n spesiale afspraak met hulle. Neem ’n oomblik uit jou dag om te luister na wat hulle te sê het. Hulle sal dit waardeer. Onthou ook dat dit tyd neem om vertroue te wen en verhouding te bou. Julle sal waarskynlik meer as een samekoms nodig hê om hulle te help om dinge uit te sorteer. Jy moet nie net jou opinie of ’n ultimatum stel en wegloop nie - veral nie met rebelse tieners nie. Laat hulle toe om jou advies te hoor en tot hul eie gevolgtrekkings te kom. Sê vir hulle dat jy hulle ondersteun en trots is op hulle.


4. Verstaan waarvan jou kinders hou.

Elke kind is uniek. Dit beteken dat selfs al deel julle DNS, jul steeds baie van mekaar kan verskil - fisies, geestelik en/of emosioneel. Dit is jou verantwoordelikheid as ouer om uit te vind wat hulle gelukkig maak en interessant vind. Watter belange, standpunte en persoonlikheidseienskappe deel julle, en hoe verskil julle? Begin om ’n verhouding met hulle te bou deur gemeenskaplikhede en vind daarna jou weg na die gebiede wat vir jou onbekend is. Die maklikste manier om uit te vind hoe anders of dieselfde julle is, is om eenvoudig verskillende dinge saam uit te probeer. Maak jou kinders se oë oop om die wêreld te sien. Help hulle om nuwe dinge te ondersoek en te ontdek. Besoek plekke en woon aktiwiteite by. Let op waarvan hulle hou en waarvan hulle nie hou nie. Doen iets saam wat buite beide se gemaksones is. Dit sal jou kind wys dat jy oop is vir nuwe dinge.

Nog ’n goeie manier hoe jy hulle kan help om dinge te ontdek waarvan hul moontlik kan hou en in belangstel is om saam te lees oor ’n aantal verskillende onderwerpe. Lees slaaptydstories, die nuus, geskiedenisboeke, ens. Dit is die veiligste en goedkoopste manier om met jou gedagtes te “reis”. Bespreek die dinge wat jul gelees het na die tyd.

Dit is belangrik om jou kind onvoorwaardelik lief te hê, selfs as julle nie altyd dieselfde dink of mekaar verstaan nie. Laat weet hulle dat jy omgee oor die dinge wat hulle gelukkig maak, want as hulle gelukkig is, is jy ook.


5. Maak hul drome jou eie.

“Baie van ons drome lyk aanvanklik onmoontlik, dan lyk dit onwaarskynlik, en dan, wanneer ons die wilskrag bymekaar skep, word hulle gou onvermydelik.” ~ Christopher Reeve. Drome is kosbaar. Dit is belangrik dat kinders toegelaat word om dinge te droom wat groter as ons almal is. Die drome wat gevorm word in ’n jong kind se gedagtes, kan ontwikkel in ’n kragtige begeerte om ons almal se lewens te verbeter. Drome beïnvloed ons gedagtes, die toerusting wat ons gebruik, die argitektuur wat ons bou en uiteindelik die manier waarop ons, ons wêreld vorm. As ouer moet jy jou kinders altyd aanmoedig om hul verbeelding te gebruik; om fantastiese dinge te droom en nooit hul entoesiasme vir die ontdekking van nuwe dinge te verloor nie. Dit is eerder aanbeveel om jou kinders te vra watter verskil hulle in die wêreld wil maak of watter probleem hul wil oplos, as om te vra watter beroep wil hul beoefen wanneer hul groot is. Kinders se gedagtes sal nie uitbrei as hul ingeperk word en net leer en dink op ’n sekere manier soos wat van hul verwag word nie.

Minder as 60 jaar gelede sou dit na ’n onmoontlike beroep gelyk het om ’n ruimtevaarder te word. Gelukkig het dromers ’n begin gemaak om in die ruimte in te gaan. Met ongelooflike harde werk en navorsing in sterrekunde, fisika, aërodinamika, ingenieurswese en rekenaarvelde het hulle daardie droom verwesenlik. Op 12 April 1961 het die Russiese ruimtevaarder Yuri Gagarin die eerste mens geword om in die ruimte te reis. Die les wat hieruit geleer kan word is dat dit belangrik is om jou kind te verstaan. Ondersteun hulle in alles wat hulle doen, maak nie saak hoe absurd dit nou klink nie. Hulle mag dalk net die onmoontlike oorkom! Jy hoef nie al jou geld, tyd en energie op hul “buitensporige” projekte te spandeer nie, maar dit sal goed genoeg wees vir hulle om te weet dat jy hulle ondersteun. Koop vir hulle ’n paar boeke oor ’n spesifieke onderwerp wat hulle fassineer. Probeer om ’n tutor of afrigter te vind om hulle te help om op die regte spoor te kom.


6. Beplan ’n spesiale dag vir jou kinders.

Daar is niks meer pret en belonend as om ’n dag saam met jou kinders te spandeer nie. Ons weet, dit is nie altyd moontlik met ’n veeleisende werkskedule nie, maar elke nou en dan moet jy ’n tyd en datum saam met hulle skeduleer. Die kanse is groot dat julle albei ’n ruskans nodig het en weer in verbintenis met mekaar tree. Vra hulle vooraf waarheen hulle wil gaan. As jy hulle goed ken kan jy hulle verras. Maak seker dat hulle ’n bietjie vrye tyd het. Die dag en aktiwiteit sal geheel en al afhang van jou en jou kind. Dit kan so avontuurlustig of ontspannend wees as wat julle wil hê dit moet wees. Jy het 'n groot verskeidenheid opsies om van te kies in ons blog artikel “18 Interessante plekke vir Suid-Afrikaanse leerders om gedurende die skoolvakansies te besoek”.


7. Niks bring mense saam soos goeie kos nie.

Daar is beslis baie waarheid in die gesegde: “Goeie kos bring mense saam”. Almal moet eet, so hoekom maak jy nie iets spesiaals daarvan nie? Almal kan in die kombuis help. Om saam ’n lekker ete te maak is baie pret. Die geure, aromas en teksture van kos en speserye kan baie terapeuties wees. Almal sal begin om te ontspan en mekaar se teenwoordigheid te geniet. Geniet jou maaltyd by die etenstafel - nie voor die televisie nie. Om aan tafel te sit moedig oogkontak aan, wat tot geselskap lei. Vra jou kinders hoe hulle dag was en vertel vir hulle van joune. Bespreek verskillende onderwerpe. Sjef John Besh het dit die beste gestel: “Terwyl ek grootgeword het, het ek die belangrike lesse van die lewe aan die etenstafel geleer”.


8. Hou ’n speletjie dag/nag met jou gesin.

Almal hou van ’n lekker speletjie. Speletjies is ’n uitstekende keuse om die verhouding met jou kinders te begin bou. Speletjies moet lighartig en speels wees en ook stres verlig. Wanneer jy met jou kinders speletjies speel, sal jy meer oor hul persoonlikhede leer. Speletjies gee jou ook die geleentheid om nuwe dinge aan jou kinders te leer, insluitende waardevolle lewenslesse. Kompetisie is goed - die hele doel van speletjies is om die spelers aan te moedig om hul bes te doen, maar probeer om afbrekende wedywering tot ’n minimum te beperk - veral tussen broers en susters.

Idees vir speletjies sluit in:

  • Bordspeletjies soos Skaak, Monopolie, 30 Sekondes, Skrabbel, ens.
  • Kaartspeletjies soos Uno
  • Wegkruipertjie
  • Balspeletjies soos sokker, rugby, krieket, hokkie, netbal, basketbal ens.
  • Stoei
  • Verbeeldingryke speletjies
  • Kussinggevegte


9. Ontmoet hul vriende.

Om jou kind se vriende te ontmoet kan ’n goeie manier wees om meer oor jou eie kind te leer. Elke kind moet ten minste een vriend hê en probeer om meer vriende te maak. As ouer word jy aangemoedig om belangstelling in hul vriende te toon. Vriendskappe help jou eie kind om meer te leer oor verhoudings en ander mense. Laat jou kind weet dat sy of haar vriende welkom is in jou huis. Hersien ’n paar “huisreëls” vooraf. Maak dit bekend aan jou kind, die vriend en sy of haar ouer/voog dat jy teenwoordig sal wees. Maak dit ’n aangename ervaring vir jou kind se vriende. Almal moet kwaliteit tyd saam spandeer. Jy kan ook besluit om jou kind en hul vriende (met toestemming van hul ouers) na ’n prettige aktiwiteit te neem, soos om ’n fliek te kyk of ’n roomys te eet. Jy sal gou uitvind wat hul gemene belangstellings is en waarom hulle vriende is. Deur uit te reik na jou kinders se vriende sal hulle besef dat jy omgee vir hulle.


10. Ontdek jou innerlike kind.

Die beste manier om jou kind te verstaan is om terug te dink na die tyd toe jy jonk was. Onthou wat dit vir jou beteken het om op te kyk na die sterre; wat dit beteken het om in verwondering rond te wandel in die dieretuin; hoe dit gevoel het om so vinnig as moontlik by die straat af te hardloop; wat dit beteken het om jou eerste goue medalje te wen... Jy was eenkeer presies waar hulle nou is. Sekerlik, die wêreld is nou effens anders in vergelyking met hoe dit dalk was, maar die kern van wat dit beteken om ’n kind te wees sal altyd dieselfde bly. Alle kinders is gevul met hoop en verwondering - soms selfs ’n bietjie onskuldige kattekwaad, maar hulle sal altyd dieselfde liefde en aanvaarding vanaf ’n ouer wil hê.


Leer jou kinders die belangrike lesse wat jy tot dusvêr geleer het. Bou die verhouding met jou kinders wat jy met jou ouers as kind gehad het of wou hê. Tyd vlieg ongelooflik vining verby. Moenie toelaat dat die lewe se onvoorspelbaarheid en eise inmeng met jou verhoudings op ’n manier wat julle vreemdelinge vir mekaar word nie. As dit gebeur sal hierdie wonderlike geleentheid om ’n fantastiese, betekenisvolle en blywende verhouding met jou kinders te hê jou verbygaan. Sodra jou verhoudings nie meer daar is nie, sal alles anders in elk geval nie meer saak maak nie. Neem hierdie vakansie om (weer) met hulle in te skakel en hulle beter te leer ken - selfs al sien jy hulle elke dag. Jy sal nie spyt wees nie. Laat weet ons hoe jy kwaliteit tyd met jou kinders gaan spandeer.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

SIEN DIE TEKENS VAN NOOD IN TIENERS RAAK EN HOE OM HUL SIELKUNDIGE WELSTAND TE VERSEKER

Vandag ervaar ons jeug stres op ’n baie groot skaal - selfs vanaf die vroeë ouderdom van 10 jaar. Di...

Lees

VOORSTELLE HOE OM VERTROUE, RESPEK EN ’N GOEIE VERHOUDING MET JOU KIND TE BOU

Kinders soek jou aandag, liefde en respek. Daarom is dit belangrik om met hulle te praat en hulle in...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.