3 PRODUKTIEWE MANIERE OM SOSIALE MEDIA IN JOU LEERPLAN AAN TE WEND, SOWEL AS 3 STRUIKELBLOKKE WAARVOOR JY OP DIE UITKYK MOET WEES

Maandag, 12 Maart 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Die gebruik van sosiale media deur die meeste skoolkinders is ’n realiteit. Dit sal nie binnekort verdwyn nie. Die geheim is dat dit hul nie weerhou om goed te presteer in toetse en eksamens nie.

blogImage

Wanneer ons “sosiale media” en “eksamens” in een sin noem, is die eerste ding wat mense geneig is om te dink “uitstel van werk en afleiding van aandag”. “Dit kan nie goed vir my kind eindig nie!” Sommige bekommernisse is geldig en as hierdie platforms nie slim aangewend word nie, kan dit negatiewe gevolge hê vir die ontwikkeling van kinders. Ons leef egter in ’n era waar sosiale media-platforms algemeen deur adolessente gebruik word. Dit is ’n realiteit en elke ouer kan self besluit wanneer en hoe hul, hul kinders sal toelaat om hierdie Toepassings te gebruik. In plaas daarvan om dit onrealisties te probeer verban of hul te verbied om dit te gebruik, kan ons daarby aanpas. Hierdie platforms kan gebruik word as instrumente om tieners met hul akademie te help. Die voordeel wat ’n sosiale media-platform bied, is dat baie tieners dit reeds ken. Ons kan net so wel begin om sosiale media in ’n manier te gebruik om onsself te verbeter in plaas daarvan om onnodiglik tyd te mors op video’s oor oulike katjies of toe te laat dat dit ons menslike interaksies vervang.


In hierdie blog artikel bespreek ons die volgende:

3 Produktiewe maniere hoe jy sosiale media in jou leerplan kan aanwend:
1. YouTube-tutoriale.
2. Facebook-groepe.
3. WhatsApp-groepe.
Bonus
4. Ander nuttige toepassings.

3 Struikelblokke van sosiale media om voor uit te kyk:
1. Onmiddellike bevrediging.
2. Jy kan nie vele take gelyktydig verrig nie.
3. Sosiale media kan jou tyd steel.



Inkorporeer die positiewe aspekte van sosiale media met jou akademie op die volgende maniere:


1. YouTube-tutoriale.

Vandag is YouTube nie net bedoel vir musiekvideo’s of snaakse video snitte nie. YouTube funksioneer selfstandiglik as ’n soekenjin. As jy riglyne nodig het oor hoe om ’n wetenskapsprojek aan te pak of hoe om sekere woorde in ’n vreemde taal uit te spreek, is dit byna sekerlik deur YouTube gedek. Oorweeg dit dalk volgende keer as jy nie ’n onderwerp in die ekonomie klas verstaan het nie! Jy mag dalk ook belangstelling vind in ’n nuwe veld waarvan jy dalk nie vroeër bewus was nie. Baie tieners en jong volwassenes skep tutoriale, insiggewende video’s en selfs dokumentêre programme. Dit is inspirerend en bemoedigend vir ander adolessente om te sien. Moet net nie afdwaal van jou soek-onderwerp deur nie-verwante video-voorstelle te kyk nie. As jy besluit om self ’n YouTube-kanaal te begin om van jou kennis te deel – moenie obsessief raak oor die gewildheid van jou video nie. Doen dit omdat jy passievol is oor die onderwerp!

Nog ’n wonderlike manier om YouTube te gebruik, is om ontspanne studie-agtergrondmusiek aan te sit. Nee, dit beteken nie noodwendig klassieke musiek soos baie dink nie! Daar is baie komponiste wat musiek spesifiek skryf om hul luisteraars gemotiveerd, kalm en gefokus te hou – die perfekte atmosfeer om te leer. Die musiek is hoofsaaklik gebaseer op eenvoudige melodieë en harmonieë en bevat ook manipulasie van klanke wat atmosferiese geluide skep. Dit is dikwels instrumentele en/of orkestrale musiek, maar as stemme teenwoordig is, is lirieke afwesig. Die luisteraar hoef nie regtig te “luister” na die dinamiese uitvoering soos in die geval van klassieke musiek nie. Die musiek sal ook nie die luisteraar se aandag aflei of op hul ouers se senuwees werk met elektriese kitare en baskitaar nie. Lirieke kan nie in jou kop vassteek soos sekere popliedjies nie! Hierdie musiekstyl is hoofsaaklik ontwikkel deur komponiste wat musiek vir rekenaar- en videospeletjies skryf. Daar word van hulle verwag om musiek te skryf wat luisteraars sal help om verstandelike taaiheid en konsentrasie te behou, wat dus hul help om vir langer ure te speel sonder om fokus te verloor. So, waarom kan jy nie hierdie soort musiek tot jou voordeel gebruik en daarna luister terwyl jy leer nie? Vele studiemusiek is beskikbaar in YouTube-snitlyste.


2. Facebook-groepe.

Facebook is waarskynlik een van die mees versteurende sosiale media-platforms, maar ’n Facebook-groep kan jou help om jou skedule en prioriteite in orde te kry. Jy en jou klasmaats kan mekaar herinner aan die sperdatums vir opdragte en toetse. Jul kan mekaar help deur klasnotas op te laai, nuwe inligting oor sekere onderwerpe te deel en te bespreek of om met ander te deel hoe hul vir ’n bepaalde vak kan voorberei. Selfs net om mekaar aan te moedig kan geweldig help! Weet dat almal in dieselfde boot is. Jul het dieselfde take om te doen en dieselfde werk om te studeer. Onthou dat hierdie groep nie ’n steurnis moet word nie. Hou altyd die onderwerp relevant. Moenie onnodige grappe maak nie en moenie verwag dat net een persoon altyd die werk doen en die res misbruik hul goedhartigheid nie!

Facebook is ideaal om vinnig kontak te maak met mense wat voor die sosiale media-verskynsel baie moeilik sou gewees het. Byvoorbeeld, jy kan maklik in kontak kom met die outeur (of sy/haar assistant of uitgewers) wat die handboek geskryf het wat jul in die klas gebruik. Indien nodig kan jy vir hul iets oor die handboek vra. Maak seker dat jou ouers jou help om ’n goed-bewoorde brief te skryf voordat jy dit stuur. Moet nooit hierdie individue of organisasies aanhoudend bombardeer nie en moenie lelike woorde skryf nie.


3. WhatsApp-groepe.

WhatsApp-groepe is ideaal vir vinnige kommunikasie in klein groepe. Jy kan ’n studiegroep skep waar almal mekaar motiveer en mekaar herinner aan toets- en inhandigingsdatums vir werkopdragte en huiswerk. Jul kan ’n datum, tyd en plek reël om saam te werk aan groepopdragte, om die werk te bespreek of voorbeeld toetse uit te werk. Jou groep kan skakels na webblaaie, artikels of ander bronne deel om mekaar te help met werk.

As daar ’n tutor of onderwyser is wat bereid is om by ’n WhatsApp-groep aan te sluit wat gemik is op ’n spesifieke vak, is dit baie maklik om te kommunikeer of ’n vraag te vra wanneer jy vir die vak leer. Vrywaring: Moenie jou onderwyser steur met irrelevante boodskappe nie – veral nie gedurende die aand na 19:30 nie!


Bonus


4. Ander nuttige toepassings.

Ander nuttige toepassings (“toeps.” [“apps.”]) vir skoliere sluit in Dropbox of Google Drive. Dit is uitstekend om notas en ander groter lêers tussen vriende en klasmaats te deel. Onthou dat jy net gratis lêers kan deel wat in die publieke domein is, of as jy toestemming van jou onderwyser of die outeur het. Jy mag nie plagiaat pleeg en lêers wat deur kopiereg beskerm is versprei nie.

Twitter kan gebruik word om direk met kundiges soos onderwysers, tutors, wiskundiges, wetenskaplikes, ens. te kommunikeer. As jy van ekonomie hou, kan jy ekonome op Twitter volg, aan hulle direk vrae vra en eerstehands van hulle leer.

Skype kan gebruik word om oor video te gesels. Jy kan intyds oudiovisuele gesprekke hê, wat goeie nuus is veral as jy aanlyn tutorsessies wil ontvang – dit hoef nie eers verband hou met skoolwerk nie! ’n Vindingryke voorbeeld van hierdie is ’n Suid-Afrikaanse hoërskool skaakkampioen wat skaaklesse met professionele Russiese skaakspelers oor Skype ontvang. Die moontlikhede is eindeloos!



Sosiale media kan waarde toevoeg tot jou lewe wanneer jy dit korrek gebruik. Wees egter versigtig vir die volgende 3 struikelblokke:


1. Onmiddellike bevrediging.

Sosiale media het ’n stelsel geskep waarin mense onmiddellike bevrediging verwag! As jy nie van ’n prent of video hou nie, rol jy eenvoudig verder op die webblad af, want daar is duisende ander prente en video’s beskikbaar. Dit is nie goed nie omdat jou brein met onnodige inligting versadig word. Ons brein hoef nie op die inhoud te konsentreer of te reflekteer nie, want as ons dit nie binne ’n paar splitsekondes daarvan hou of verstaan nie, weet ons dat daar altyd meer inhoud is om ons te stimuleer.

Neem die tyd om jou selfoon gereeld vir ’n rukkie af te skakel. Leer hoe om stil te sit. Leer hoe om te mediteer om jou verstand te kalmeer. Om te leer en hard te werk om goeie punte te kry is ’n proses wat jy nie moet haas nie. Word gewoond aan die idee dat jy ’n sekere aantal ure per dag moet studeer om jou akademiese doelwitte te bereik. Stel ’n skedule op waar jy jouself kan beloon vir die hoeveelheid werk wat jy doen. Sit en leer sonder om aan jou selfoon aandag te gee of deur die rekenaar versteur te word vir minstens 45 minute. Beloon dan jouself dan met ’n 15 minute ruskans. Tydens jou ruskans kan jy op sosiale media inloer, maar probeer ook om ander lekker dinge te doen, soos om buite in die tuin te loop, te gesels met ’n vriend, om met ’n bal te speel of na ’n nuwe liedjie te luister.


2. Jy kan nie vele take gelyktydig verrig nie.

Daar is ’n Russiese spreekwoord wat sê: “As jy twee hase jaag, sal jy nie een vang nie.” Dit geld vir produktiwiteit. Wanneer jy huiswerk doen, maar die TV is in die kamer, jou selfoon ontvang boodskappe, terwyl jy deur Instagram foto’s op jou iPad kyk, sal jy waarskynlik nie die goeie punte kry wat jy wil hê nie!

Doen een ding op 'n slag! Voordat jy begin leer, sê vir jou vriende dat jy nie vir die volgende paar uur by jou selfoon sal wees nie en sit dan jou foon in jou kas of in ’n ander kamer sodat dit nie jou steur nie. As jy gaan sit om te leer, haal drie keer diep asem en dan wanneer jy begin moet jy werklik op jou werk konsentreer. Sê vir jouself dat jy net een ding moet doen en dit is om hierdie een hoofstuk na die beste van jou vermoëns te leer. As jy leer en jy begin die werk te verstaan, sal jy die proses geniet. Dit is wanneer merkwaardige vordering plaasvind.


3. Sosiale media kan jou tyd steel.

Hoeveel keer het jy al deur jou Facebook of ander sosiale media-platforms gegaan en as wanneer jy na die horlosie kyk, sien jy dat ’n goeie halfuur verbygegaan het? Sosiale media kan jou aandag aflei van die belangrike dinge in jou lewe. Sosiale media kan veroorsaak dat jy jou werk uitstel en dit steel tyd van jou wat jy nooit kan terugkry nie! Wees versigtig oor hoeveel tyd jy op sosiale media spandeer en evalueer of jy werklik baat vind deur soveel tyd op daardie platvorms te spandeer. Dink so daaraan – geen Toepassing gaan jou toets vir jou skryf nie, net jy kan dit doen! Geen Toepassing kan namens jou studeer of goeie punte namens jou kry nie – net jy het die vermoë om jouself te dwing om te leer en om jouself te motiveer om goeie punte te kry.


Sosiale media kan jou op baie maniere help en jou verbind met mense met dieselfde ingesteldheid as jy. Sosiale media is op baie maniere nuttig – om nuwe inligting te kry of om selfs ons te motiveer om hard te leer. Dit kan egter moeilik wees om produktief te bly in ’n sosiale media-gedrewe wêreld. Daarom moet ons ons dae beplan sodat ons aandag nie daardeur afgelei word nie. “Produktiwiteit is nooit ’n ongeluk nie. Dit is die resultaat van toewyding tot uitnemendheid, intelligente beplanning en gefokusde pogings.” – Paul J. Meyer.

Vertel vir ons van die sosiale media platforms waarop jy is. Hoe baat jy daarby? Het sosiale media jou toegelaat om nuwe maniere te vind om te studeer en inligting te deel? Het jy by sosiale media groepe aangesluit wat jou gehelp het om jou akademiese doelwitte te bereik? As jy slegs sosiale media gebruik om met familie en vriende kontak te maak of as jy dit net as ’n prettige tydverdryf-aktiwiteit beskou, laat ons weet hoe jy verhoed dat die tyd wat jy aan sosiale media bestee te veel raak.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

3 PRODUKTIEWE MANIERE OM SOSIALE MEDIA IN JOU LEERPLAN AAN TE WEND, SOWEL AS 3 STRUIKELBLOKKE WAARVOOR JY OP DIE UITKYK MOET WEES

Vandag is sosiale media nie net bedoel om oulike kat-video’s te deel nie (alhoewel, dit gebeur dikwe...

Lees

BYNA 80% VAN SUID-AFRIKAANSE GRAAD 4 LEERLINGE KAN NIE LEES NIE

Onlangse bevindings van ’n globale assessering wat deur die Vordering in Internasionale Lees-gelette...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.