BYNA 80% VAN SUID-AFRIKAANSE GRAAD 4 LEERLINGE KAN NIE LEES NIE

Maandag, 16 April 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Die belangrikheid van lees en hoe om tyd te maak om hierdie vaardigheid te beoefen.

blogImage

Onlangse bevindings van ’n globale assessering wat deur die Vordering in Internasionale Lees-geletterdheid-Studie (PIRLS) gedoen is, toon dat 78% van Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders se lees-geletterdheid vlakke in hul leertaal onder die laagste internasionaal erkende standaard val. Met ander woorde, byna 8 uit 10 Graad 4 leerders kan nie met begrip lees nie. Die mees onlangse kwartaalverslag, PIRLS 2016, wat in 2017 gepubliseer is, het ook aan die lig gebring dat Suid-Afrikaanse leerders die laagste geletterdheidspunt uit die 50 deelnemende lande behaal het. Navorsers van die Universiteit van Pretoria (UP) se Sentrum vir Evaluering en Assessering (SEA) was verantwoordelik vir die data oor lees- en geletterdheidsvlakke van graad 4 en 5 studente in Suid-Afrika. 12 810 Graad 4 leerders is in al 11 tale getoets en 5 000 graad 5 leerders in Afrikaans, Engels en isiZulu. Celeste Combrinck, waarnemende direkteur van die UP SEA sê: “Terwyl minder as die helfte van die leerders wat die toetse in Engels en Afrikaans afgelê het kon lees, kan 80% van diegene wat skoolonderrig ontvang in een van die ander nege amptelike tale glad nie effektief lees nie.” Seuns het swakker gevaar as meisies, met 84% seuns wat nie die laagste maatstaf kon verbysteek nie, vergeleke met 72% van die meisies. Onder al die 50 deelnemende lande is Suid-Afrika se geslagsgaping die tweede grootste naas Saoedi-Arabië.

Baie faktore speel ’n rol in hierdie kommerwekkende statistieke. Dit sluit in, maar is nie beperk tot demografie – bv. woon in afgeleë landelike gebiede of nedersettings, toenemende klasgroottes en minder nuwe onderwysers wat die stelsel betree nie. Baie leerders wat ’n ander taal as Engelssprekend is, versuim om in hul huistaal lees- en skryfvaardighede te bemeester voordat hulle omskakel na Engels aan die einde van graad 3 – en dus sukkel hulle om nuwe materiaal te leer en te begryp aangesien hul basiese geletterdheidsvaardighede ontbreek.

Dit is tragies om te weet dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse laerskoolleerders nie kan lees nie. Ongeletterdheid moet ’n ernstige kommernis vir die toekomstige ontwikkeling van ons jeug en ons land wees. Celeste Combrinck sê dat: “Om te kan lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses. As jy nie kan lees nie, sal jou geleenthede op skool of na skool beperk word. Daarom moet lees op ’n baie jong ouderdom begin.”

Ons kan probeer om die oorsaak van hierdie probleme te vind en blaam op die demografie, skoolstelsel, onderwysers, ouers, ens. te plaas, maar dit is nie produktief nie en dit verander egter nie die statistieke nie. Ouers moet proaktief wees en alles doen wat hulle moontlik kan om te verseker dat hul kinders leer hoe om te lees. Voordat ons verder gaan en bespreek hoe jy en jou kind die tyd kan vind om hierdie belangrike vaardigheid aan te leer, wil ons die belangrikheid van lees bespreek.


8 Redes waarom elke kind moet kan lees:
1. Lees is ’n noodsaaklike vaardigheid om in die samelewing te kan funksioneer.
2. Lees berei kinders voor vir sukses.
3. Lees is noodsaaklik om ’n goed betaalde professionele werk te bekom.
4. Lees ontwikkel belangrike taal- en kommunikasievaardighede.
5. Lees is oefening vir die verstand.
6. Lees versterk konsentrasie.
7. Lees stel kinders in staat om te leer van ’n groot verskeidenheid onderwerpe.
8. Lees brei kinders se verbeelding en kreatiwiteit uit.

Hoe om die tyd te vind om jou leesvaardighede te oefen:
Ontdek 5 maniere hoe om tyd te maak om te leesvermoëns te beoefen.



8 Redes waarom elke kind moet kan lees:


1. Lees is ’n noodsaaklike vaardigheid om in die samelewing te kan funksioneer.

Om in ons moderne samelewing te kan lees, is nie ’n vereiste nie, maar jy sal nie baie ver kom as jy nie kan lees nie. Daarom moet dit beskou word as ’n verpligte vaardigheid wat elke suksesvolle persoon moet hê. As jy daaraan dink is daar oral teks! Van pad- en waarskuwingstekens tot instruksies oor medikasie of masjinerie. Dit eindig nie eens nie – almal moet rekeninge betaal, mediese vorms of ander dokumentasie op een of ander stadium invul. Hierdie alledaagse aktiwiteite vereis slegs die basiese leesvaardighede, maar wat die meeste geletterde mense as die norm aanvaar, kan ’n groot frustrasie en las wees vir diegene wat nie kan lees nie.


2. Lees berei kinders voor vir sukses.

Om te leer lees is ’n opeenvolgende proses. Dit beteken dat elke vaardigheid voortbou op die bekwaamheid van vorige vaardighede wat geleer is. Wanneer kinders begin om te leer lees, breek hulle ’n woord in basiese klanke op. Die verskillende klanke wat verband hou met sekere letters sal uiteindelik woorde vorm. Sodra hulle die woorde herken wanneer hulle dit lees, sal hulle die verbintenis tussen daardie woord en bypassende definisie raaksien. Later sal hulle meer woorde herken in ’n sin en die sin kan lees en die betekenis daarvan verstaan. Uiteindelik sal hulle hele teksgedeeltes kan lees en verstaan wanneer hulle sinne verbind. Hierdie prestasie om die opeenvolgende proses te bemeester deur die klanke te bou om woorde te vorm; woorde om ’n sin te vorm en sinne om teksgedeeltes te vorm, sal hul selfvertroue versterk en hulle leer wat hul gedagtes in staat toe is. Hulle sal begin om die waarde van lees te verstaan. Hulle sal ’n aptyt ontwikkel vir meer kennis en hul gedagtes sal dit soos ’n spons absorbeer. Die liefde van leer en die innerlike bevrediging wat dit meebring, sal verseker dat hulle goed op skool presteer en daarna streef om hulself in ander aspekte van hul lewe te verbeter.


3. Lees is noodsaaklik om ’n goed betaalde professionele werk te bekom.

Deur te kan lees, kan jy jou skoolopleiding voltooi en by ’n kollege of universiteit studeer. In die meeste gevalle word lees vereis as deel van die werkverrigting en jy moet kan lees om te kan studeer. Jy kan jou drome volg en jou eie blink toekoms bou as jy ernstig is oor jou skoolonderrig. As jy nie met begrip kan lees nie is jy beperk tot wat jy met jou lewe kan bereik.


4. Lees ontwikkel belangrike taal- en kommunikasievaardighede.

Jong kinders word elke dag aan nuwe woorde blootgestel. Hulle ontdek nuwe woorde wanneer ons met hulle praat, wanneer hulle met hul vriende praat of ons hoor praat met ander en ontdek selfs nuwe woorde oor die radio of televisie. Die woordeskat wat ons gebruik om met kinders te praat, is egter dikwels beperk. Deur boeke aan jong kinders te lees, stel jy hulle bloot aan nog meer nuwe woordeskat en bou ’n meer standvastige basis vir kommunikasie. Boeke bevat dikwels nuwe, ongewone of interessante woorde. Lees leer nie net jong kinders nuwe woorde nie, maar ook hoe taal werk. Lees ontsluit hul kreatiwiteit en ontwaak hul denkprosesse. Lees kan hul begrip van die wêreld en ander mense verbeter; vir hul norms en waardes leer. Hoe meer woorde kinders kan leer, hoe beter sal dit vir hulle in die toekoms wees. Woorde stel ons in staat om ons gedagtes en idees aan ander te kommunikeer. Dit stel ons in staat om op ’n ander en selfs dieper vlak te koppel. Wanneer ons lees, kan ons ander mense se menings en gedagtes beter verstaan.


5. Lees is oefening vir die verstand.

Die verstand moet beskou word as ’n spier (alhoewel anatomies gesproke is jou brein nie ’n spier nie, maar bevat wel bietjie spiere). Soos enige ander spier in jou liggaam vereis dit oefening om korrek te ontwikkel en die beste te funksioneer. Een manier waarop ’n jong verstand beoefen kan word is deur te leer hoe om te lees. Wanneer kinders vanaf ’n vroeë ouderdom aan lees blootgestel word, verbeter dit hul breinaktiwiteit in spesifieke areas wat belangrik is vir taalontwikkeling. Deur taalvaardighede te ontwikkel, sal dit ook help om te leer hoe om te luister. Die kombinasie daarvan speel ’n groot rol in ons algehele kommunikasievaardighede.


6. Lees versterk konsentrasie.

Wanneer jy aanvanklik begin om vir jou kleuter te lees, mag hulle dalk nie aandag gee aan dit nie. Hulle mag dalk voortdurend die bladsye blaai of die boeke rondgooi. Dit is egter van kardinale belang dat jy nie op daardie ouderdom opgee nie. Deur vir hulle elke dag te lees sal hulle daaraan gewoond raak en uiteindelik begin om aandag te gee en na die storie te luister. Hul konsentrasie sal toeneem en hulle sal vir langer tydperke kan fokus. Dit sal vir hulle baie nuttig wees om vir langer tydperke te kan konsentreer sodra hulle skool toe gaan en begin leer.


7. Lees stel kinders in staat om te leer van ’n groot verskeidenheid onderwerpe.

Sprokies, geskiedenis, natuur, biologie, die buiteruim, wetenskap, sport, kuns, kultuur, kos en alle ander aspekte van die mensdom… Verskillende boeke wat verskillende onderwerpe dek sal aan kinders baie inligting deurgee en hul kennis verbreed. Hulle sal meer veelsydige en afgeronde kinders word as hulle blootgestel is aan soveel moontlike onderwerpe. Deur te lees sal hulle die wêreld beter verstaan; hulself beter verstaan.


8. Lees brei kinders se verbeelding en kreatiwiteit uit.

Lees skep die geleentheid vir ’n kind se verbeelding om te verbreed. Dit is iets merkwaardig om te aanskou. Wanneer hulle ’n storieboek lees, gebruik hulle hul verbeelding om in te dink hoe die karakters lyk, hoe hulle optree, hoe hulle praat, ens. Kinders se gedagtes vorm hierdie karakters volgens hoe hulle die woorde interpreteer. Hulle dompel hulself in hierdie denkbeeldige wêreld. Hul gedagtes word gevul met opwinding en wonder. Jy kan dit in hul oë sien. Sodra hulle daardie vonk vind, ongeag die tipe boeke wat hulle geniet om te lees, kan jy verseker wees dat hulle omtrent enigiets kan verbeel! Hulle kan sommige van hierdie wonderlike idees oor bring na die werklikheid en dit gebruik om hulself kreatief uit te druk. Hul gedagtes sal oplossings op unieke maniere kan vind – en dit is geensins beperk tot slegs kuns, musiek en letterkunde nie. Wiskunde, ekonomie, ingenieurswese, argitektuur, wetenskap, sport ens. benodig ook kreatiewe denke om vorentoe te beweeg en unieke idees te ontwikkel wat daardie spesifieke velde sal verbeter. Dit alles net deur boeke te lees!


Noudat ons bespreek het waarom dit belangrik is vir elke kind om te leer lees, wil ons die kwessie van ongeletterdheid in ons land aanspreek en hoe ons as ouers iets daaraan kan en moet doen. Eerstens, baie ouers is nie altyd seker wanneer, waar en hoe om te begin om hul kinders te leer hoe om te lees nie. Baie ouers is besig met hul werkskedules wat hulle nie altyd toelaat om soveel tyd met hul kinders te spandeer nie. Gevolglik begin hulle nie vroeg genoeg nie en wanneer hul kinders uiteindelik skool toe gaan, plaas hulle daardie verantwoordelikheid op die onderwysers. In ons volgende blog sal ons bespreek hoe jy te werke moet gaan om eintlik jou kinders te leer hoe om te lees. In hierdie artikel wil ons egter seker maak dat jy met ’n besige skedule die tyd kan inpas om hulle te help om hul leesvaardighede te beoefen.


Hoe om die tyd te vind om jou leesvaardighede te oefen:

1. Lees vroeg in die oggend voor skool.
2. Lees die aand na huiswerk voltooi is.
3. Skeduleer leestyd in jou kalender.
4. Sluit aan by ’n boekklub of begin ’n boekklub met vriende wat dieselfde tipe boeke geniet.
5. Herinner jouself daaraan om jou spoedlees te beoefen tydens kort ’n ruskansie.


“Hoe meer jy lees, hoe meer kennis het jy. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke besoek jy.” – Dr. Seuss. Ons hoop jy voel aangespoor om jou leesreis te begin! Ons glo dat wanneer die volgende PIRLS gepubliseer word ons kinders groot vordering sou maak en dat die geletterdheidsyfers in ’n positiewe rigting gedraai is. Laat weet ons hoe jy voel oor hierdie statistieke en jou gedagtes rondom hoe ons die probleem kan oplos. Het enige van jou kinders probleme om te leer hoe om te lees? Ons sal dit waardeer as jy enige advies oor tegnieke wat gehelp het met hul leesvaardighede deel.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

3 PRODUKTIEWE MANIERE OM SOSIALE MEDIA IN JOU LEERPLAN AAN TE WEND, SOWEL AS 3 STRUIKELBLOKKE WAARVOOR JY OP DIE UITKYK MOET WEES

Vandag is sosiale media nie net bedoel om oulike kat-video’s te deel nie (alhoewel, dit gebeur dikwe...

Lees

BYNA 80% VAN SUID-AFRIKAANSE GRAAD 4 LEERLINGE KAN NIE LEES NIE

Onlangse bevindings van ’n globale assessering wat deur die Vordering in Internasionale Lees-gelette...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.