LEKKER VAKANSIE AKTIWITEITE

Dinsdag, 14 Desember 2021

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Vakansie aktiwiteite wat die hele gesin kan geniet.

blogImage

As daar een ding is waaroor ons oortuig is, is dat kinders die maksimum uit hul skoolvakansie moet kry hierdie Desember. Dit is belangrik om nou lekker te ontspan en te herlaai sodat elkeen gereed kan wees om volgende jaar se uitdagings met durf aan te pak.


Baie lekker, tog eenvoudige vakansie-aktiwiteite wat kinders en hul ouers saam kan geniet:
1. Neem ’n troeteldier aan.
2. Plant ’n paar plante.
3. Speel balspeletjies.
4. Vlieg ’n vlieër.
5. Hou ’n skattejag.
6. Trek aan soos jou gunsteling fiktiewe karakter.
7. Hou jou eie poppekas-vertoning.
8. Bou ’n klein huisie uit kartonbokse.
9. Maak ’n snoesige tent uit lakens en komberse.
10. Bou ’n legkaart.
11. Bak iets lekker.
12. Maak ’n kunswerk.
13. Leer om ’n musiekinstrument te speel.


1. Neem ’n troeteldier aan.

Diere het altyd ’n wonderlike uitwerking op kinders. Wat daarvan om ’n kat, hond, papegaai, vis of hamster te kry? Kies die troeteldier wat die beste by jou gesin sal pas.

Deur 'n troeteldier se vertroue deur wedersydse respek te verdien, sal jou kinders die heerlike geselskap van ’n nie-menslike vriend ervaar.

Jou kinders sal die geleentheid kry om vir ’n dier te sorg. Roetine-aktiwiteite soos voeding, skoonmaak en oefening van hul troeteldiere om hulle gesond, gelukkig en lewendig te hou, is ’n groot verantwoordelikheid. Dit leer kinders talle vaardighede en lewenslesse.

Dit is geen maklike taak om ’n ander lewende wese deel van jou huishouding te maak nie. Dit moet noukeurig oorweeg word – soos om genoeg ruimte te hê, die maandelikse koste verbonde te dek en of ’n familielid allergies is. Anders as dit, is daar baie min nadele om ’n troeteldier te hê.

Jy hoef nie duisende te spandeer om ’n baie oulike troeteldier te kry nie. Moenie bekommerd wees as jy nie ’n gesogte honderas kan bekostig nie. Jy kan maklik ’n dier van ’n reddingskuiling aanneem.

Maak seker jy besoek ’n veearts om jou troeteldier te ondersoek. Hulle kan entstowwe en medisyne toedien. Dit kan ook ’n wyse besluit wees om jou nuwe troeteldier na ’n opleidingskool te neem.

Geniet dit om vir hulle te sorg en gee vir jou troeteldiere baie liefde. In ruil daarvoor sal jy in oorvloed dit terug ontvang.


2. Plant ’n paar plante.

Nie alle kinders het tuine in hul agterplaas of toegang tot parke nie, aangesien baie in stede of voorstedelike gebiede naby hul skole grootword. Dit is egter nodig dat kinders met natuur ’n verbintenis het. Die goeie ding is ’n mens kan klein begin en daar is geen beter tyd as die vakansie nie. ’n Paar potplante op ’n balkon of binnenshuis kan ’n groot verskil maak. Plante is pragtig om na te kyk, hulle is heerlik om aan te raak en te ruik en hulle suiwer die lug.

 

Jy kan plante van saadjies of steggies begin kweek of na ’n kwekery gaan om ’n paar uit te soek. Wat van ’n paar blomme, kruie, eetbare vrugtebome of inheemse vetplante? Die keuses is eindeloos. Dit maak nie regtig saak nie... Kry net ’n plant, bietjie kompos en/of potgrond en water. Nou is jy gereed om jou eie paradys te maak.

 

Om ’n plant te versorg sal vir jou kinders verantwoordelikheid leer. Om plante gereeld nat te maak en geduldig te wag dat hulle groei, neem tyd en toewyding. Dit is egter ’n kosbare ervaring om te sien hoe plante volwasse word en blomme of vrugte maak. Dit kan kinders baie bevrediging gee en hulle trots maak.


3. Speel balspeletjies.

Of dit nou rugby, sokker, gholf, tennis, netbal, vlugbal, hokkie of enige ander balspeletjie is, is hulle almal baie pret! Beslis ’n genotvolle aktiwiteit gedurende die vakansie. Selfs as jy beperk is deur die aantal spelers om ’n volle span uit te maak kan jy altyd die reëls ’n bietjie buig en net soveel pret hê.

Balspeletjies leer strategie en spanbou, verbeter hand-oog-koördinasie en konsentrasie, en al die fisiese oefening stel endorfiene vry wat hormone is wat jou goed laat voel.

Sommige gesinne kan baie mededingend wees, wat goed is in sekere gevalle, maar onthou jou kinders probeer nie om te kwalifiseer vir die Springbokke nie (nog nie)! Geniet dit net.


4. Vlieg ’n vlieër.

In vandag se tyd waar kinders heel waarskynlik deur rekenaarspeletjies, TV en toeps vermaak word, is om ’n vlieër te vlieg ’n baie onderskatte aktiwiteit wat eintlik soveel vreugde kan bring. Hulle sal baie misloop as hulle dit nie probeer nie.

Eerstens, om ’n vlieër te monteer is op sigself baie bevredigend, want dit verg ’n bietjie geduld. Ekstra punte as jy dit ontwerp en van nuuts af bou.

Sodra jou kinders uit die huis kom en sien hoe hul kleurvolle vlieër die lug in opstyg, is dit ’n baie opwindende ervaring. Hulle sal die ligte briesie teen hul gesig voel waai. Die wind bring ook allerhande aangename buitelug-reuke mee. Hulle sal waarskynlik ’n paar voëls sien en hoor. Hulle sal hul dosis vitamien D van die sonlig kry.

Deur hul vlieër vas te hou en dit deur die lug te maneuvreer, sal hulle hul fyn motoriese vaardighede opskerp.

Dit is eenvoudig ’n lekker en ontspannende ervaring vir die hele gesin, ongeag wie deelneem en wie kyk.


5. Hou ’n skattejag.

Wie hou daarvan om ’n vermiste muntstuk in jou sak te vind? Almal, natuurlik! Hoekom hou julle nie ’n skattejag nie?

Jy kan 'n kaart met leidrade maak en skatte in 'n skatkis plaas vir jou kinders om aan die einde te vind of voorwerpe op verskeie plekke rondom die huis te strooi.

Plaas skatte in 'n skatkis en maak 'n kaart met leidrade vir jou kinders om dit te vind. Nog 'n opsie is om voorwerpe op verskillende plekke rondom die huis te versteek.

Skatte hoef beslis nie die hele wêreld se goud en rykdom te wees nie. Lekkergoed en snuisterye sal net so goed wees. Jy kan ook briewe skryf en dit saam met foto’s wegsteek. Hierdie herinneringe is baie meer kosbaar as wat geld kan koop.

Om jou skattejag ekstra pret te maak – speel die rol! Teken ’n snor, trek jou verweerde klere aan en moenie jou groot seerower-hoed vergeet nie. Maak jou eie see-liedjies op om te sing en wees jolig. Dis alles deel van die lawwe pret.


6. Trek aan soos jou gunsteling fiktiewe karakter.

Stimuleer jou kinders se verbeelding terwyl jy hulle toelaat om die helde van hul eie stories te word. Trek ’n kostuum aan en betree ’n fantasiewêreld.

As ouer het jy natuurlik die reg om die rol van ’n skurk te speel. Dit is een manier om hulle terug te kry as hulle hul kamers deurmekaar gelaat het!


7. Hou jou eie poppekas-vertoning.

Kyk na die vertoning van ’n leeftyd! Geniet jou kinders se eie poppekas-vertoning.

Jy sal 'n paar poppe nodig hê. Raak kreatief en maak jou eie poppe. Dit kan 'n prettige aktiwiteit vir jou kinders wees. Jy kan maklik figure op gekleurde papier teken en uitknip. Voeg ’n paar kunsvoorwerpe en linte by en sien hoe hulle lewe kry. Alternatiewelik kan jy speelgoed-poppe gebruik. Jy sal ook die verhoog moet opstel. Kry ’n kombers vir die poppespelers om agter weg te kruip en stel ’n mooi agtergrond op.

Volgende het jy ’n storie nodig. Maak dit op soos jy aangaan; voer een van hul gunsteling sprokies op; of raak kreatief en skryf jou eie storie.

Laastens moet elke goeie storie gehoor en gesien word deur ’n gehoor. Kry die familie en ’n paar goeie vriende by mekaar en geniet die vertoning.


8. Bou ’n klein huisie uit kartonbokse.

Hier is ’n oulike idee en dit hoef jou nie ’n sent te kos nie: Laat jou kinders toe om argitek te speel. Hulle kan hul eie klein koninkryk bou met weggooi-items. Kartonbokse werk besonder goed. Jy het waarskynlik ’n paar wat rondlê, of vra ’n plaaslike winkel vir bokse wat hul klaar gebruik het.

Om ’n klein vesting te bou sal vir hulle ’n gevoel van ruimte en skaal gee en ’n klomp ander vaardighede leer. Hulle sal daarvan hou om in, oor en onder die ruimtes te klim wat hulle vir hulself geskep het.

Jy is altyd welkom in hul vesting as jy peuselhappies vir hulle bring om daar-binne te geniet. Moenie bekommerd wees as die huis bietjie slordig raak nie. Hulle kan dit maklik weer opruim.


9. Maak ’n snoesige tent uit lakens en komberse.

Neem ’n paar lakens en komberse op ’n bewolkte, reënerige dag en raak kreatief: maak ’n tent daaruit. Gebruik ’n paar pale of meubelstukke om dit te op te hou. Sit ’n paar kussings op die vloer om dit gemaklik te maak.

Dit sal hulle leer om innoverend te wees en probleme op ’n prettige manier op te los.

Sodra die tent gereed is, kry ’n paar lekker versnaperinge, ’n lekker warm drankie en ’n goeie boek. Julle eindig dalk op om tot in die nag lees. Gebruik klein flitsliggies, maar onthou asseblief - geen kerse word daarbinne toegelaat nie.


10. Bou ’n legkaart.

Daar is deesdae baie soorte legkaarte beskikbaar, maar die gewilde “jigsaw” legkaart van ’n prent wat jy saamstel is so goed soos wat jy kan kry.

Dit sal help om jou kinders se geheue en konsentrasie, sowel as kognitiewe en fyn motoriese vaardighede te verbeter.

Laat die hele gesin deelneem om dit te bou. Die gevoel wat jy kry nadat jy ’n legkaart voltooi het is fantasties.


11. Bak iets lekker.

Wou jy al ooit uitvind wat die geheim van ouma se heerlike gemmerkoekies is? Wel, miskien sal sy meer gewillig wees om dit te deel as sy hoor haar oulike kleinkind gaan dit saam met haar maak. Daar is niks daarmee verkeerd om aan ’n paar lekkernye oor die vakansie te peusel nie.

Om te bak is in baie opsigte ’n snaakse wetenskap-eksperiment. Dit kan maklik in ’n morsige spul ontaard as jy nie weet wat jy doen nie, maar wanneer alles goed verloop is dit baie lonend.

Kinders kan baie waardevolle vaardighede leer uit iets so eenvoudig soos bak. Dit sluit in: om instruksies soos uiteengesit deur die resep te volg, sowel as die berekening van mates, tydbestuur en regulering van temperatuur.


12. Maak ’n kunswerk.

Selfs al dink jy nie aan jouself as ’n kunstenaar nie, kan daar geen skade gedoen word deur jou verfkwas in ’n verskeidenheid verfkleure te doop en kyk wat gebeur nie... Moedig jou kinders aan om kreatief te wees. Miskien sal hul skilderye eendag in wêreldklas kunsgalerye uitgestal word.

Om saam ’n kunsstuk te maak kan ’n baie lekker ervaring vir die hele gesin wees. Maak iets persoonlik en koester die oomblik. In die toekoms sal jy met groot voorliefde na hierdie kunsstukke kyk.


13. Leer om ’n musiekinstrument te speel.

Musiek is universeel en raak ons almal aan. Dit kan baie emosies ontlok. Daar is ’n lied vir elke geleentheid. Musiek kan ’n uitlaatklep wees vir kinders om hulself uit te druk en hul gedagtes agter mekaar te kry wanneer skoolwerk sy tol op hulle eis.

Om ’n instrument te bespeel verg oefening en tyd, so moenie verwag om dit in die loop van ’n vakansie te bemeester nie, maar dit is die moeite werd oor die lang termyn.

As jy 'n ouer met 'n musikale agtergrond is, leer asseblief jou kinders daardie waardevolle vaardighede. Dit kan ’n hegte band tussen julle skep.

As daar nie per toeval ’n vleuelklavier in jou sitkamer staan nie, kan jy altyd probeer om jou eie instrumente te maak. Handgemaakte instrumente soos tromme of rietfluite is baie maklik om te maak. Raak kreatief, veral deur ou voorwerpe te gebruik, selfs plastiek. As niks by jou gedagtes opkom nie, probeer die instrument waarmee jy gebore is – jou stem.

As gesin kan julle jul eie musiekgroep vorm. Moenie bekommerd wees as julle ’n paar maatslae oorslaan of ’n paar vals note sing nie. Hou aan om te oefen.


Laat weet ons aan watter aktiwiteite jy en jou kinders die vakansie sal deelneem. Geniet die vakansie.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

5 KREATIEWE MANIERE OM JOU BREIN TYDENS DIE VAKANSIE TE STIMULEER

Ons wil jou hierdie vakansie aanmoedig om iets kreatief te doen. Nie net om verveeldheid te vermy ni...

Lees

10 BEKOSTIGBARE, INTERESSANTE EN OPVOEDKUNDIGE AKTIWITEITE OM GEDURENDE DIE SKOOLVAKANSIE TE DOEN

Hierdie vakansie wil ons hê dat elke skoolkind goed moet uitrus en tyd neem om te ontspan. Om te rus...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.